Die familiegrondwet is die noodsaaklike fondasie vir die bou van 'n suksesvolle familieboerdery. Dit is van kritiese belang indien die familie boerdery wil verseker dat dit oor verskeie generasies kan voortbestaan.
Die driesubstelselmodel dui op die dinamika tussen aktiewe en nie-aktiewe lede in 'n familieboerdery op drie vlakke: (1) die gesin, (2) eiendomsreg, en (3) die boerdery-onderneming. Die regulering van hierdie verhoudings en die definisie van die regte en verpligtinge van alle partye, bly 'n onvoltooide taak sonder 'n omvattende familiegrondwet.
Daar is tien pilare wat in hierdie Familiegrondwet-fondasie ingebou moet word om te verseker dat die familieboerdery van generasie tot generasie oorgedra kan word:
1. Opvolgbeplanning
Soos die ouer generasie die "oorgee" nader, word beplanning vir hierdie emosionele proses toenemend belangrik. Die opvolgbeplanning in die Familiegrondwet sluit beide persoonlike finansiële elemente (hoe sal ek finansieel my aftrede geniet) en besigheidselemente (wat is my verantwoordelikhede) in.
Hoe beter hierdie oorgangsproses beplan word, hoe groter die kans op sukses vir die familieboerdery, wat uiteindelik almal bevoordeel!
2. Bestuursopvolging
Elke familieboerdery het 'n unieke bestuursfilosofie. Dit is belangrik dat hierdie bestuursfilosofie duidelik uitgedruk word en in lyn is met die plaas se visie soos vervat in die Familiegrondwet.
Vrae soos hoe alledaagse besluite in verband met die familieboerdery geneem word en wie dit neem, moet bespreek word, en deeglike beleide moet opgestel word.
Deeglike beplanning moet ook bepaal wie die opvolgers in die familie boerdery sal wees. Is die opvolgers gesinslede, en wanneer sal die "stokkie" oorgegee word?
3. Boedelbeplanning en Testamente
Die vertrekpunt vir enige testament is die eindpunt! Wat sal die koste wees wanneer die boer oorlede is? Daar is twee sekerhede in die lewe, dood en belasting!
Die boer se boedelbeplanning voorsien vir al die belasting, uitgawes, en kostes wat betaal moet word wanneer die boer oorlede is. Boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting, en eksekuteursfooie is net 'n paar van hierdie uitgawes en kostes wat betaal moet word wanneer die boer sterf.
Dit is noodsaaklik om die likiditeit van die familieboerdery met die boer se dood te bereken om te verseker dat daar geen kontanttekort is nie. Enige kontanttekort kan aangevul word met lewensversekering.
Die boer se testament moet ook saampraat met al die ander trust- en maatskappydokumente in die familieboerdery.
4. Eienaarskapopvolging en Bate oordrag
Familie Boerderye het waardevolle bates wat hoofsaaklik in drie kategorieë verdeel kan word: (1) plaasgrond, (2) boerderytoerusting, lewende hawe, en/of wild en (3) boerderyondernemings.
Die oordrag van hierdie bates van een generasie na die volgende moet goed verstaan en beplan word. Daar is verskeie eienaarskapmodelle wat die familieboerdery moet ontleed en verstaan.
Kry gesinslede regte op sekere van hierdie bates? Hoe word die bates verdeel? Of moet niemand regte op die bates kry nie? Hierdie moeilike vrae moet gevra word om die opvolging en oordrag van bates te beplan.
Elke plaas is uniek, en dit pas nie in 'n enkele model nie. Daarom is dit noodsaaklik om die eiendomsmodelle te ontleed en 'n unieke model vir die familieboerdery in die Familiegrondwet te skryf.
5. Hersiening van Finansiële Fasiliteite en Borgskappe
Die oorgrote meerderheid van landbouondernemings gebruik eksterne finansiering, en elkeen van hierdie fasiliteite het terme en voorwaardes. Hierdie ontleding is om te verseker dat almal die terme en voorwaardes verstaan, maar ook om te sien of hierdie optimaal gestruktureer is vir elke spesifieke familieboerdery.
Een van die elemente om te oorweeg, is om te verseker dat nie te veel bates (veral grond) as sekuriteit vereis word nie, maar ook om in detail na individuele borgskappe te kyk met die doel om beide die sekuriteit en borgskappe optimaal te struktureer.
'n Familiegrondwet kan gemoedsrus aan finansierders bied, deur aan te dui dat dit 'n familieboerdery is wat vir generasies kan voortbestaan, sodat fasiliteite nie onttrek of hersien hoef te word wanneer die aktiewe boer oorlede is nie.
6. Internasionale Beleggingsdiversifikasie
Dit bly 'n gesonde beleggingspraktyk om jou bates te diversifiseer en nie al jou eiers in een mandjie te plaas nie. Onthou ook dat die landbou-sektor en grondeienaarskap wisselvallig kan wees en onderhewig is aan politieke onsekerhede.
Die kernbeginsel is om 'n gedeelte van jou bates buite Suid-Afrikaanse politieke en ekonomiese risiko's te belê in 'n belasting vriendelike jurisdiksie. Onthou dat Suid-Afrika en die JSE minder as 1% van die wêreldekonomie verteenwoordig, so sien jouself as 'n wêreldburger wanneer dit kom by surplus beskikbare kapitaal!
Die internasionale diversifikasie-strategie van die familie boerdery moet in die Familiegrondwet beskryf word.
7. Belastingbeplanning
Familieboerdery besighede het dikwels verskeie maatskappye en trusts binne die boerderystruktuur. Elke boer weet dat die belastinggaarder sy deel moet kry, maar alle boerderye moet volledige belastingbeplanning doen om die skade so ver moontlik te beperk.
Hierdie proses behels die analise van die finansiële state en 'n vergadering met die ouditeur om te verseker dat soveel as moontlik belasting bespaar kan word binne die toepaslike wetgewing.
8. Lewensversekering
Lewensversekering speel dikwels 'n belangrike rol in familieboerderye. Dit is belangrik om te onthou dat lewensversekering 'n versekeringsproduk is en nie die ideale produk is om welvaart te skep nie.
Die likiditeit van die familieboerdery moet bereken word deur 'n omvattende boedelbeplanningsproses om te verseker dat enige kontanttekorte aangevul word met die dood van die boer. Dit verseker dat die likiditeit van die familie boerdery in plek is wanneer die boer oorlede is. Op dié manier verseker mens dat kontanttekorte nie aangevul hoef te word deur sekere boerderybates te verkoop nie.
'n Gesonde balans is nodig tussen die bedrag van lewensversekering en welvaartbesparing buite die plaas. Lewensversekering maak nie deel uit van aftreebeplanning nie en kan dikwels onbetaalbaar duur wees soos die boer ouer raak.
9. Aftreebeplanning
Ons moet almal vir ons oudag beplan. Hoe vroeër en meer gestruktureerd hierdie beplanning gedoen word, hoe beter is jou kanse op sukses. Elke familielid moet sy eie finansiële plan hê wat verseker dat almal hul spesifieke finansiële doelwitte bereik.
Hierdie unieke plan moet elke jaar opgedateer word om te verseker dat die plan steeds op koers is en aangepas word met enige veranderinge in jou persoonlike omstandighede. Finansiële aftreebeplanning moet ook in lyn wees met die doelwitte van die Familiegrondwet.
10. Verskillende Strukture - Trusts en Maatskappye
Goeie korporatiewe bestuur van trusts en maatskappye is krities vir alle familie boerderye. Dit is noodsaaklik dat die familieboerdery binne die raamwerk wat geskep is deur wetgewing en hofsake bestuur word om die nodige belastingbesparings en beskerming te ontvang. Die rol van die onafhanklike trustee(s) is noodsaaklik om goeie korporatiewe bestuur te verseker.
Die statutêre dokumente van hierdie strukture moet gereeld hersien word om te verseker dat hulle in lyn is met die nuutste wetgewing. Direkteursopvolging in maatskappye en trustee- en begunstigdeopvolging in trusts moet deeglik in die statutêre dokumente geïnkorporeer word.
Die direkteurs en trustees van die verskeie maatskappye en trusts moet ook die Familiegrondwet onderteken.